Toegangsroetes!
GPS Koördinate
S 33° 13.833
E 21° 34.474
Bosch Luys Kloof is geleë in die Wes-Kaap streek van Suid Afrika en meer spesifiek in die Karoo. Dit is ongeveer 330km vanaf Kaapstad per die N1.
Die enigste roetes na Bosch Luys Kloof is of via Seweweekspoort naby Ladismith, Kaap, d.w.s. vanaf Roete 62 of vanaf die N1 nasionale hoofpad by Laingsburg.In beide gevalle ontmoet die paaie by die noordelike ingang na Seweweekspoort en dan volg ‘n klein afdelingspad ooswaarts vir 4km tot by ons ingangs hek.
Die ingangs hek is nagenoeg 50km vanaf Calitzdorp en 55km vanaf Ladismith, beide op Roete 62 en 80km van Laingsburg ,die afdraaipunt op die N1 hoofpad. Daar is nie ‘n direkte toegang vanuit enige ander rigting nie.Dit is in effek in ‘n “doodloop straat”. Bosch Luys Kloof is ook slegs ongeveer 110km van Oudtshoorn en 150km van George.
Uitsigroetes na Bosch Luys Kloof
Om u reis ervaring na - of van - Bosch Luys Kloof selfs meer interessant te maak dui ons ‘n paar
interessante uitsigroetes hieronder aan. U uiteindelike roete hang natuurlik af van u tydskedule.
Let Wel
Bostaande is baie kort beskrywings. Gaan die roetes van u keuse deelkik na voor u ry. U kan
natuurlik van die roetes op u terugpad insluit.
Uitsigroetes vanaf Kaapstad en omgewing
U kan Roete 62 volg - Paarl, Worcester na Oudtshoorn - en pragtige landskappe, heerlike kos en wyn,
interessante padstalle en restaurante langs die pad geniet. Na Ladismith sal u links in Seweweekspoort
afdraai.
As u verkies om met die N2 te reis kan u Roete 62 bereik via Riversdal terwyl u pragtige landskappe
geniet en ‘n geleidelike verandering in die plantegroei beleef soos u oor Gracia Pas reis. Hierdie
pas het Thomas Bain ses jaar geneem om te voltooi en is geopen in 1877 waarna opgraderings in 1963
gedoen is.
Alternatiewelik kan u van Swellendam af Roete 62 via Suurbraak en die prentjiemooi Tradouwpas bereik.
Tradouwpas - die poort van die vroue - wat Thomas Bain in 1873 voltooi het is in Graham Ross se boek
The Romance of Cape Mountain Passes beskryf as Bain se meesterstuk.
Die N1 is ‘n vinniger opsie, maar om dit ‘n kinkel te gee kan u een van twee ompaaie oorweeg.
Draai regs by die Witteberge in, ongeveer 54 kilometers na Touwsrivier, waarna hierdie grondpad u na die
teerpad ‘n paar kilometer buite Laingsburg sal lei en dan deur Vleiland na Seweweekspoort - dit word
later ‘n grondpad. Na u die grondpad bereik is daar ook ‘n Rouxpos ompad na regs wat u weer
terug sal bring na die hoofpad.
Vanaf die Tuinroete
Indien u vanuit die Tuinroete se rigting reis kan u besluit om Oudtshoorn via Robinsonpas vanaf
Mosselbaai, of via doe Outequapas vanaf George te benader. As u uit Oudtshoorn vertrek kan u
direk reis na Calitzdorp óf die Kango-grotte/Prins Albert pad neem wat in ‘n noordelike rigting
strek en dan wes (links) uitdraai net voor u die Kango-grotte bereik in die Kruisrivierpad. U sal
uiteindelik weer by Roete 62 aansluit by Calitzdorp. Van Calitzdorp reis u deur Huisrivierpas en draai
regs in Seweweekspoort by Amalienstein.
Vanaf Mosselbaai kan u ook die R 327 volg, ‘n pad wat beslis minder bedrywig is! Die pad sal u deur
die Langeberg neem, oor die Gouritzrivier en deur klein dorpies soos Herbertsdale en Van Wyksdorp
en terug op Roete 62 na Ladismith.
Van Gauteng Af
Besoekers van Gauteng kan Prins Albert, naby die N1 en ná Beaufort Wes verby is, besoek en die
Swartbergpas aandurf. Kort na die Swartbergpas sal u die Kruisrivierpad kry wat na regs na Calitzdorp
lei. Volgens Ross (2003) is die Swartbergpas wat in 1888 geopen is na vyf jaar se konstruksie, die
laaste pas van vele wat deur Thomas Bain gebou is. Die pas is ook in 1988 as Nasionale Monument
verklaar. Vanaf Calitzdorp volg u Roete 62 in Ladismith se rigting.
Van die N1 af kan u ook links draai en die N12 neem om Meiringspoort te verken. Die pad na links is
kort na Beaufort Wes. Meiringspoort, wat in baie opsigte vergelyk kan word met Seweweekspoort, is in
slegs 223 werksdae voltooi deur Andrew Bain, Thomas Bain se vader, en 93 gehuurde arbeiders en is
amptelik op 3 Maart 1858 geopen. Kort na die Poort sal u deur die skone klein dorpie De Rust ry
vanwaar u verder reis na Oudtshoorn en Roete 62.
Die N9 is nog ‘n pragtige uitsigroete as u dele van die Groot Karoo en die Ooskaap wil verken terwyl
u die N1 deelsuitsny. Hierdie pad lei deur dorpies soos Graaff Reinet, Willowmore en Uniondale.
|