Four star game reserve, South Africa

Geskiedenis

Inleiding

Vir die interessantheid het ons ‘n kort opsomming saamgestel oor die ontwikkeling van Bosch Luys Kloof. Eerstens ‘n kort geskiedenis oor die grond en gebied voordat ons dit gekoop het; tweedens hoe ons besluit het om ons hier te vestig (‘n vraag wat gereeld deur gaste gevra word) aangesien ons vanuit die stad was en laastens ‘n blik op die toekoms en die pad voorentoe.

Gerhard & Ans Rademeyer
Junie 2017

Geskiedenis van die grondgebied

Die verskillende dele van die reservaat was oor die laaste ongeveer 160 jaar tot ongeveer 1970 vir ekstensiewe veeboerdery, hoofsaaklik met merino skape, aangewend. Dit beslaan tans nog amper 14 000 hektaar, maar was heelwat groter voor die bou van die Gamkapoortdam in 1967 – 1969 op die oostekant van die eiendom.Die dam het die vroeëre deurpad na Prince Albert asook ‘n paar duisend hektaar afgesny.

Alhoewel deur verskillende eienaars tot ±1970 redelik baie vee aangehou was, het die verdeling van die grond in groot 1000ha kampe in die middel van die 1900’s waarskynlik bygedra dat die veld in sommige gevalle oorbenut en in ander gebiede feitlik onaangetas is deur beweiding.

‘n Groot geluk het die veld te beurt geval toe dit sedert die bou van die dam nooit weer intensief benut was nie. Stadig, maar seker verbeter die veld sedertdien a.g.v lae benuttingspraktyke wat toegepas word. Veld verbetering is egter baie afhanklik van die reenvalpatrone. Die bekende Spekboom (Portulacaria afra) vermeerder goed.

Daar is op die reservaat steeds tekens te vind van ou strukture waar veewagters in die verlede rondbeweeg het – meer so natuurlik voor die afkamping met draad. ‘n Aantal ou grafte wat dateer vanuit die middel van die 19de eeu is besigtigbaar. Eerste formele besetters dateer terug tot die laat 1700’s. Hulle kon nomadies gewees het , maw hulle het getrek agter water en weiding aan.

'n Interessante stukkie geskiedenis ontvou rondom die ontwikkeling van die Wagon route to Beaufort 4x4 roete (Kyk by Aktiwiteite) wat sy naam ontleen aan n ou wa-roete oor Bosch Luys Kloof wat in die vroeë 1800’s in gebruik was. Voor die bou van Seweweekspoort en die Bosluiskloofpas was daar reeds ossewa en perde roetes na die binneland. Drie roetes het oor Bosch Luys Kloof gestrek op plekke wat ons nou as onmoontlik sou klassifiseer… Die huidige pad is eers ongeveer 1862 gebou en dit het natuurlik die pionier boere en almal wat oral in die klowe gebly en die trekpaaie gebruik het, se lewens totaal verander. Dié pad is vandag ‘n doodlooppad wat eindig by die oostelike grens van die reservaat (by die Gamkapoortdam) en was oorspronklik gebou as ‘n ossewa- en perderoete en is nooit werklik wesenlik opgegradeer na moderne standaarde nie. Hierdie roete was die deurgang na Prince Albert en Beaufort, nou Beaufort-Wes.

Dit is interessant dat dit net mooi 100 jaar langer geneem het voor die pad na Gamkaskloof (die Hel) wat onmiddelik langs Bosch Luys Kloof gelee is, ge-open is in 1962 en dat die klowers toe eers meer vryelik na die buitewereld begin beweeg het! Die Hel grens aan Bosch Luys Kloof se suidekant. Mens kan aanvaar daar was kontak oor en weer, natuurlik te voet.

Geskiedenis van die Eienaars

Ek en Ans is beide natuurliefhebbers - nie “groen-mal ” nie, net lief vir die natuur se skoonheid, stilte en vrede. Ons was nog altyd geïnspireer deur die begeerte na ‘n stukkie grond wat ons in aanvoeling met Moeder Natuur bring. Kort nadat ons in die huwelik getree het, het ons begin uitkyk na grond om te koop, aangesien ons in ‘n klein woonstel in die noordelike voorstede van die Wes-Kaap woonagtig was. Ek het toe pas my opleiding as rekenmeester voltooi en Ans het haar in die onderwys bekwaam.Na n kort verblyf in Welgemoed en die Durbanville-area naby Kaapstad, het ons ‘n klein stukkie grond in die Paarl distrik gekoop waar ons baie gelukkig was met ‘n paar perde, meer spasie ens. Twee of drie jaar later, ongeveer 1980, het ons begin uitkyk vir meer spasie! Die wyn-, vrugte- en druiweplase rondom Kaapstad het ons nie regtig geïnteresseer nie- ons was op soek na oopte! Gevolglik moes ons die berge oor.

In 1983 het ons uiteindelik ‘n plaas in die Karoo gekoop, ons Kaapse bande gesny en op ‘n pragtige plaas tussen Laingsburg en Ladismith gaan woon wat grens aan die Swartberge. Ons het min ondervinding van die landboubedryf gehad, maar het dit tog vermag om met amper iets van als te kon boer! Ons het egter na ‘n tyd besef dat ons nie werklik boere is nie, maar net ‘n groot liefde vir die natuur , die veld, die berge, ens. Na ongeveer 7 jaar het ons terug verhuis na Durbanville. Ek het weereens die besigheids en professionele wêreld betree en Ans het deeltyds teruggekeer na die onderwys. Na drie jaar het ons die plaas verkoop.

Dit was egter net twee jaar later , ongeveer 1995 , of ons was weer op n spoor ! Ons het ons oog gehad op ‘n pragtige groot stuk grond wat half verlate en onbekend in n ongerepte bergwildernis van die Karoo geleë is. Ons was gefassineer deur die absolute wilde gevoel van Afrika. Ou legendes van luiperd, jakkals, rooikat en bobbejaan wat by oorlewering vrylik in die area vee gejag het, het ons belangstelling geprikkel, want hier was die ongerepte natuur waarna ons gesoek het en wat feitlik nie meer bestaan in die Wes Kaap nie.In 1996 het ons die grond gekoop, maar was nie van plan om permanent ons daar te vestig nie. Ek het ‘n belofte gemaak dat ons nooit sal vergeet dat dit slegs met die hulp van “Hoër Ingryping” was dat ons hierdie stuk grond kon koop nie en dat ons dit sal bewaar as ‘n plek waar plante, diere en mense saam in vrede kan leef. Ek het ‘n groot kruis opgerig voor die ou plaashuis sodat ons nooit hierdie belofte sal vergeet nie. Dit staan vandag op ‘n heuwel wat uitkyk op die lodge en chalets.

Vir baie jare het ons net geniet en verken voordat ons tot die besluit gekom het om die grond in ‘n natuurreservaat te omskep wat dit vir meer mense moontlik sal maak om die natuurskoon te geniet. Daar is ‘n groot tekort aan sulke natuurlik ongerepte gebiede – jy vind dit omtrent nie meer soos die mens sy belange uitbrei. Die ontwikkeling het plaasgevind tussen 2006 en 2009. Die grond en ontwikkeling staan van toe af bekend as Bosch Luys Kloof Privaat Natuurreservaat. Die naam is afkomstig van trilobiet-fossiele wat gevind is tydens die bou van die Bosluiskloofpas in 1862/3 – hierdie waterorganismes het baie gelyk soos prehistoriese (ongewenste) bosluise. Ek het besluit om die naam te behou – met ‘n bietjie teenstand vanaf Ans!

Gerhard & Ans Rademeyer – 2010

Die pad vorentoe

Ons betrokkenheid by Bosch Luys Kloof het volwassenheid bereik - ons besit die grond nou vir 21 jaar! Dit is moeilik om te glo dat 11 jaar vandat ons fisies hier kom woon het ( 2006 ), so vinnig verby is!

Dit was ‘n wonderlike avontuur om iets bymekaar te kon sit wat net kan groei in gestalte, relevansie en uniekheid. Ons het ons drome en ideale bereik tot ‘n groot mate en nou dat ons die “geseende” ouderdom van 70 bereik volgende jaar, moet ons realisties vorentoe beplan. Daar is so baie om te geniet hier, maar ons dink dat vars bene en energie die reservaat dalk beter verder die toekoms kan inneem. Ons is in geen haas om ons droomkind te verlaat nie. Ons probeer, maar kan nie die horlosie gestop kry nie…

Dit sal wonderlik wees as daar iemand in die wye wêreld daar buite is wat ook so geïnspireerd sal wees om hierdie wonderlike plek verder die toekoms in te neem en ons visie van ‘n stukkie aarde waar die natuur minimum versteur word te bereik. Om dier, voël, boom, bos ens. vrye teuels te gee. Daar is so min oor.

Ons het baie energie, passie en geld aan hierdie unieke landgoed spandeer – dus kan ons dit ongelukkig nie skenk nie! Indien enige iemand belangstel om met ons te praat kan ‘n privaat e-pos gestuur word na gerhardrademeyer48@gmail.com. Dit het ons ongeveer twee jaar geneem om die punt te bereik waar ons moes vrede maak met die idee dat ons die reservaat sal moet groet.

Gerhard & Ans Rademeyer
Junie 2017

Copyright © 2018 Bosch Luys Kloof   •   Site by: WebWorX