Four star game reserve, South Africa

CON SE PAD
Stap roete

Notas: ‘n Aflaai fooi van R 50 sal gehef word indien gaste verkies om die stap roete vanaf punt (5) op die kaart te begin en sodoende die roete afstand te halveer.

KÖORDINATE: 33° 18.870' S, 21° 31.507' O
AFSTAND: ±6,24km (1 tot 9 op kaart)
STYGING: 113m
DALING: 116m
MOEILIKHEIDSGRAAD: Maklik Tot Gematig
TYD SKATTING: ±2uur(±1uur vanaf 5 na lodge)
MIN. HOOGTE BO SEESPIEEL: 495m
MAKS. HOOGTE BO SEESPIEEL: 542m
GEMERK MET: Wit Geverfde Klippe, Yster Pale, ens.

Con se Pad

Die roete (vir vetgedrukte nommers verwys na nommers op Kaart )

Die roete begin naby die lodge se hoof hek teen die pad (1). Volg die witgeverfde ysterpale in ‘n Oos-noord-oostelike rigting. Die roete neem jou deur twee kontrasterende areas, Noord en Suid van die Bosluiskloofrivier. Vir die eerste gedeelte loop die paadjie al langs die sonkant van ons Karoo noordelike voetheuwels, deur ‘n dwerg karoo struik tipe plantegroei omgewing. Die stap oppervlak is nie plat soliede grond nie, so hou maar die los klippe en enkels in gedagte. Net onder die chalets gaan die pad verby ‘n ou skaapwagters huis (2) ‘n paar klip hopies is al bewys wat oorbly.

Verder in die roete loop jy verby ‘n klein heuwel (3), van hier kan jy die duidelike verskil in plantegroei aan beidekante van die rivier oplet.

Jy sal die Bosch Luys Kloof “hoofpad” oorsteek waar die historiese “Ossewa roete na Beaufort-Wes” uit Olienhoutskloof die hoof Kloof binnekom (4). Die nabootsing van ‘n ou ossewa met vier osse vooraan is ‘n goeie indikasie van die kruising, en die bord ‘Con se Pad’ aan die anderkant van die pad.

Volg dan die pad om die Prammetjie koppie en neem ‘n breuk by een van ons voël uitkyk punte reg langs ‘n klein watergat (5). Hier kan jy ‘n verskeidenheid voëlsoorte sien, waaronder die Kuifkopvisvanger, Kopereend en Witkeelkanaries maar net ‘n paar is om op te noem. Doen navraag vir ‘n voellys by die lodge. Bergskilpaaie kom maak ook gereeld hul verskynsel gedurende die warmer maande.

Van hier neem die roete jou deur ‘n doringlaagte langs die Bosluiskloofrivierbedding. Wees op die uitkyk vir die verskeidenheid spore en mis langs die pad. Gewilde besigtigings langs die roete sluit in duiker, bobbejaan, koedoe, gemsbok en rooi hartebees. Plantegroei langs die Bosluiskloof rivier bestaan meestal uit Soetdoring (Vachellia karroo), Kraalbos (Galenia africana), Rooi karee (Searsia lancea) ens.

Jy sal vir die eerste keer by punt (6) die Bosluiskloof droee rivierbedding binnestap (hoogte bo seespieel ±495m). Hou vir ‘n kort entjie in die rivierbedding aan (in ‘n westelike rigting soos op kaart) en wees op die uitkyk vir ‘n witgeverfde ysterpaal wat aandui waar jy regs uit die rivierbedding moet uitstap. Na jy die rivier oorgesteek het, volg die roete verby nog ‘n bouval van ‘n pioniers huisie (7) in ‘n oop sanderige area, maar jy moet baie mooi kyk om hierdie raak te sien.

Vallei vloere in die Wes-Kaapse plooiberge, én dus gronde langs die Bosluiskloofrivier is hoog in voedingstowwe en organiese materiaal aangesien dit hoofsaaklik afkomstig is van Bokkeveld skalie gesteentes.

Hierdie gronde is vrugbaar met geen tekort aan ondergrondse water nie, die Soetdoring met sy lang penwortels benut hierdie ondergrondse water ten volle maar veral in droee jare wanneer oppervlaks water toevoeg min is.

Op die roete langs sal jy so af en toe ‘n paar ou beendere, skedels ens. vind van diere wat deur predatore gevang is, of gesterf het weens ouderdom, droogte en ander natuurlike faktore. Wees maar versigtig vir doring takke ens. wat laag hang as gevolg van koedoes en bobbejane wat daaraan trek en hang.

Volg die wit merkers wat langs die rivier afloop en so nou en dan die rivier oorkruis. Diere gebruik ook gereeld die roete, so probeer maar so min as moontlik geraas maak, dit kan net jou kanse verbeter om meer diere raak te sien op die roete. Hou ook die ore oop vir die singende voëls, die doring ruigtes is ‘n tuiste vir ‘n groot verskeidenheid spesies, onder andere die Feevliëvanger, Bonthoutkapper ens. As jy moeg word langs die pad is die kortste roete om na links te swaai en weer die hoofpad deur die reservaat in ‘n oostelike rigting te volg tot by die lodge.

Die roete mag dalk hier en daar toe gegroei wees, so hou maar die oë oop vir die takke en bossies. Die roete eindig by die ‘Con se pad’ baken (8) op die Shepherds Trail/Ska’wagters 4x4 roete. Van hier af volg die 4x4 pad terug tot by die lodge verby die ou boma waar die elande hul eerste paar weke by Bosch Luys Kloof deurgebring het (9).

Gaan reguit kroeg toe en geniet ‘n yskoue drankie van jou keuse!

Copyright © 2019 Bosch Luys Kloof   •   Site by: WebWorX