Four star game reserve, South Africa

DIE HISTORIESE ROETE

Dit is n maklike pad om te volg en het geen verdere aanwysings nodig nie. Volg maar net die pad en stap so ver as jy wil en draai om.

Historiese Staproete

Agtergrond
Die roete begin by die lodge en volg n tweespoor pad na die weste , suid van die Bosluiskloof rivier. Die roete word ook benut vir Land Rover natuurritte.

Verskeie ou verwysingspunte na die dae van die eerste en latere pioniers kan steeds gevind word op die roete as mens mooi kyk. Hulle is genommer 1 tot 15. Stap so ver as u wil op die hoofspoor en kom terug via die bospaadjie wat jy sal opmerk terwyl jy instap. Daar is ook afstandpaaltjies wat vir jou wys hoe ver jy stap.Die totale afstand op die paadjies tot aan die einde (no 14) is 4.5 km.

As jy nie te veel geluide maak nie kan jy onder andere koedoe, eland, gemsbok, sebra en ander bokkies raakloop. Kyk maar links en regs op die omliggende koppies.

Inhoud

  1. Ou waterput
  2. Labirint
  3. Hoof boorgat / sonpomp stelsel vir lodge & chalets
  4. Ou waterkanale
  5. San grot
  6. Ou pioniershuisie met trapvloer/voerstoor
  7. Waterskeiding
  8. Ou windpomp; waterpunte vir diere
  9. Ou pioniershuisie met trapvloer
  10. Ou waterput / syferput uit rivier
  11. Ou pioniershuis
  12. Ou begraafplaas
  13. Ou trapvloer
  14. Ou dipgat
  15. In die rivier op: ou pioniershuis met grafte

(1) OU WATERPUT

In die tyd lank voor boorgate en pompe het die ou pioniers waterputte gegrawe in areas waar hulle water opgespoor het.Die water is dan met waterwiele met emmers of bakke onttrek na behoefte.

Dit was in gebruik in die 19 en 20 ste eeu.

Die gate wat diep en groot was het volgeloop deur syfering uit die omliggende rivier byv. Die gate se wande was uitgelê met klip en die houtwiel het op n houtas gedraai.

Hierdie gat het water gehad tot 2015 ongeveer en ons hoop na die huidige groot droogte (2015 – 2018) sal dit weer water trek.

(2) LABIRINT

Die uitleg hier is nageboots uit die klein labirint in die Chatres Katedraal in Frankryk. Dit was as n simbool vir pelgrims geskep en die idée was om balans in jou spirituele lewe te skep.

Die uitleg is gebaseer op die vier basiese rigtings: Noord = Energie: Oos = Hergeboorte; Suid = Tevredenheid en Wes = Egte vreugde. n Meer beskrywende pamflet is by ontvangs beskikbaar.

(3) HOOF BOORGAT / SONPOMP STELSEL VIR LODGE EN CHALETS

Die sonpanele is effens hoër op teen die koppie op die linkerkant en die waterreservoir nog hoër op teen die koppie (water toevoer na lodge en chalets werk op druk/gravitasie). Die pomp werk net as die son skyn en verseker n stroom vars water elke dag in die 50 000 L tenke. Minstens twee tenke is permanent oop vir toevoer na die lodge en chalets, en twee of drie is toe (as spaar tenke). Dié tenke word weekliks geruil om die water vars te hou.

(4) OU WATERKANALE/SLOTE

Min sigbaar meer is die kanale wat deur die ou pioniers gegrawe was om water uit die klowe na hul klein landjies te lei. Koring en mielies was hoofsaak. Oor die jare het die vrylopende diere die slote weggetrap. Dele van die sloot is nog sigbaar n entjie terug teen die kant van die koppie verby punt (5).

(5) SAN GROT

Die grot, wat oos front, kan selfs van die staproete gesien word. Dit word ongeskonde gelaat en mens moet mooi kyk op die tekens en merke te sien. Volstuisdop krale, potskerwe, en werkstuk klippe is daar opgetel. Die grot was moontlik gebruik deur /Xam (suidelike San) en later Qeuna (ook bekend as Khoi) mense.

Dit kon dalk n geboorteplek gewees het by afleiding van die swart kolle. Die kolle het ook spirituele betekenisse gehad en kon selfs as kalenders gedien het.

Die ligging van die grot is ideaal vir die veldmens.

(6) TIPIESE PIONIERSHUISIE – EERSTE WONING

Die rondtrekkende pionierboere moes inderhaas huis vind en het gewoonlik weggespring met eers net n dak oor die kop om hul trekwaens aan te vul, die res in dan later aangeval en hul eerste huise het gewoonlik uit twee vertrekke bestaan. Baie was ook net trekboere wat gedurig na ander weiveld getrek het.

Die trapvloertjie was tipies hul donkie (soms osse) trapvloer. Die donkies loop in die rondte om n sterk paal in die middel. Die klipsirkel is nog duidelik uit te ken. Na die koring uitgetrap is is die kaf op die regte dag in n windjie uitgewaai.

(7) WATERSKEIDING

Die waterskeidings was ook maar gebou om water na laer dele en landjies te dirigeer. Die dammetjies was ook met donkieploeg en skrop gesleep. n Voorbeeld van n skrop hang naby die lodge se hek.

(8) OU WINDPOMP WATERPUNT

Waar die sonpanele nou staan was n tipiese karoo windpomp, opgaardammetjie en krip. Die groter gronddam is later gebou en dien steeds as watersuiping vir die wild. Daar is ook n voelkykskuiling en n paar sitplekke om te ontspan. Dit word nou ook as n piekniek plek gebruik. Daar is selfs n bosstort om onder af te koel as dit warm is. (vra by ontvangs hoe hy werk !)

(9) PIONIERSHUISIE

Verwys na (6) bo.

(10) OU SYFERPUT

As mens van die huisie by (9) na die rivier beweeg dan is daar nog die oorblyfsels van n ou put te sien – effens wes. Dit was in die dae toe die rivier vry water gehad het.

(11) HOOF PIONIERS HUIS

Waar nou net n hoop klei lê was een van die hoofhuise in die gebied. Toe ons die grond gekoop het in 1996 was daar nog mure regop met n deel van die dak – ongelukkig te ver heen om te red. n Foto is wel in die kroeg te sien- links onder.

Dit was bewoon deur ene Van Wyk wat glo n redelik streng man was. Hy het besigheid in Prince Albert gedoen te perd. Dit word vertel dat hy die vee-inspekteur van Prince Albert een dag sommer in die dipgat gegooi het toe hy te veel te sê gehad het oor Van Wyk se manier van dip.

Die Van Wyk’s kinders het gereeld hiervandaan gestap oor die berg tot by die omgewing waar die reservaat se hoof hek (en begin van die To Moer ‘n Gone staproete) vandag is. Hierdie klofie is toe vernoem na hulle, ‘Van Wyks Kloof’ as ‘n herdenking van hul weeklikse lang staptogte om by die skool uit te kom.

(12) OU BEGRAAFPLAAS

Kyk of jy dit kan vind. Effens Suid-oos vanaf die pioniershuis self

(13) OU TRAPVLOER

Kyk of jy dit kan vind, tussen begraafplaas en pioniershuis

(14) OU DIPGAT

Dipgate is algemene verskynsels op veeplase. Die dipgat word gevul met water en veedip word bygevoeg. Skape ens. word dan daarin gedip om lastige uitwendige parasiete vrek te maak en te kontroleer.

(15) IN DIE RIVIER OP: OU PIONIERSHUIS MET GRAFTE

Verwys na (11)
Die kloofroete na die huis van Van Wyk se broer is ‘n redelike afstand en moet nie aangedurf word sonder dat julle dit bespreek met die eienaar/bestuurder nie.

Die huis ruïne is ook nie maklik om te vind nie.

‘n Interessante storie is een geskryf deur die bekende Suid-Afrikaanse skrywer, digter en parlementarier C.J. Langenhoven.

‘n Russiese wetenskaplike het ‘n formula ontdek om goud uit sekere rou material en chemikaliee te ontgin, destyds in die vroee 1900’s. Toe nuus hiervan versprei het raak hy onmiddelik die teiken van ‘n wye soektog…eienaars van myne en besigheidsmanne met groot beleggings in die goudbedryf was ontsteld!

Skynbaar het hy himself toe vinnig skaars gemaak en in Suid-Afrika beland, maar die spioene was op sy hakke. Om ‘n lang storie kort te maak - hy het toe afgesondere plekke gaan opsoek en eventueel eindig toe ook op by Van Wyk se broer se huis, diep in die bosluiskloof river op!

Tragies genoeg het die gulsigheid van die mensdom verseker dat hy onverpoos gesoek en opgespoor is, Hy is toe vermoor en begrawe. Ons het die plek waar die Rus begrawe is gevind, en interessant genoeg is dié graf in ‘n Noord-Suid rigting gegrawe, met die grafsteen wat na die Noorde toe wys.Dit is soos in die Noordelike halfrond.

Die waarheid agter hierdie storie kan ons natuurlik nie bevestig nie, maar met so ‘n goeie storie mors ‘n mens nie!

Copyright © 2019 Bosch Luys Kloof   •   Site by: WebWorX